Slag van Tannenberg Pools: Bitwa pod Grunwaldem Litaus: Žalgirio mūšis | |||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|
Deel van die Oorlog tussen Pole-Litaue en die Duitse Orde | |||||||
Slag van Tannenberg, uit die Bernse Kroniek van Diebold Schilling die Ouere | |||||||
| |||||||
Strydende partye | |||||||
Koninkryk Pole Grootvorstedom Litaue Pools-Litause vasalle, geallieerdes en huursoldate Roetenië Masowië Prinsdom van Moldawië Tartare Boheme Morawië Wallachië |
Duitse Orde, ander kruisridders en huursoldate uit Wes-Europa | ||||||
Bevelvoerders | |||||||
Jogaila (Władysław II Jagiełło), opperbevelhebber Vytautas die Grote, Litause kommandeur |
Ulrich von Jungingen | ||||||
Sterkte | |||||||
Tussen 16 000 en 39 000 | Tussen 11 000 en 27 000 | ||||||
Ongevalle | |||||||
4 000 tot 5 000 gesneuweldes 8 000 gewondes |
200 gesneuwelde ridders 8 000 gesneuweldes 14 000 gevangenes |
Die Slag van Tannenberg is op 15 Julie 1410 naby die dorp Tannenberg (huidige Poolse naam: Stębark) tussen die leër van die Duitse Ridderorde onder bevel van hoogmeester Ulrich von Jungingen en die gemeenskaplike strydmagte van die Koninkryk Pole onder bevel van koning Władysław II Jagiełło en van die Grootvorstedom Litaue onder bevel van grootvors Vytautas geveg.
Met hierdie veldslag het die gewapende konflik tussen die Duitse Orde en die Grootvorstedom Litaue, wat op hierdie tydstip reeds sowat 'n eeu voortgeduur het, en die latente mededinging tussen die Orde en die Koninkryk Pole sy hoogtepunt bereik. Die beslissende nederlaag, wat die Duitse Orde in die slag gely het, markeer die begin van die Orde se heerskappy in Pruise asook Pole-Litaue se vordering tot 'n Europese supermoondheid.
Die Slag van Tannenberg word as een van die grootste veldslagte tussen Middeleeuse ridderleërs beskou en is sedert die 19de eeu in Pole en Litaue tot nasionale mite verhef. Om hierdie beslissendste oorwinning in die geskiedenis van dié twee nasies het romantiese legendes en verhale ontstaan, en uiteindelik is dit ook vir nasionalistiese propaganda ingespan om as 'n groter simbool van die nasionale stryd teen invallers en vreemde oorheersing asook as 'n bron van nasionale trots te dien.
In Pole is die metafoor van die krzyżacy ("kruisridder") vanaf die 19de eeu as 'n sinoniem vir die onderdrukking van die Poolse volk gebruik, waarby veral die nasionale digter Adam Mickiewicz die Duitse Ridders in sy werke Grażyna en Konrad Wallenrod grootliks negatief uitgebeeld het. Nogtans was die Orde vir Mickiewicz net 'n metafoor vir die Russiese besetting van Pole - om sensuur te ontsnap kon hy dinge destyds nie by die naam noem nie.[1]
In die 20ste eeu is die slag ook vir Duitse en Sowjet-Russiese propaganda misbruik. Eers in die laat 20ste eeu het geskiedkundiges begin om die slag vanuit 'n onsydige perspektief te benader.